Tuesday, March 10, 2015

Eerste take op hande

Arbeidsreg se eerste taak moet oormôre (2015-03-12) in wees en die ander drie take Vrydag.  Ek is heeltemal klaar met die arbeidsregtaak en ek moet net bietjie skaaf aan die res.  Dis die eerste bondel van die twintig bondels take wat ek moet inhandig.  Twintig bondels take en tien bondels eksamens.  In totaal is daar 120 akademiese oefeninge wat ek moet doen om my graad te behaal. Dalk is dit makliker om net te dink aan 10 semesters? 2 hierdie jaar klaar, 8 wat oorbly.

Die drie eerstejaarsvakke is heel hanteerbaar.  Ek behoort vir almal onderskeidings te kry. Arrogant? Glad nie. Ek het 'n plan met elkeen van hulle. Hoewel ek nog nie geleer het nie, nie baie intens nie, het ek 'n goeie oorsig van al vier vakke. Harde werk lê nog voor.

Hier waar ek nou sit, het ek vandag my kaptein ingelig dat my oorplasing suksesvol was en dat hy moet bepaal wanneer ek dan by die nuwe plek gaan begin werk.  Gits, waar is my maniere? Ek werk tans by Parkweg Veediefstaleenheid. Dis verwarrend aangesien dit nie by Parkweg self is nie, maar tien kilometer uit die  stad uit.  My verplasing na Parkweg self is toe goedgekeur.  Een van die redes is dat ek net te veel gebiede moet dek.  By Parkweg sal ek waarskynlik net een van die rolle vervul wat ek tans vervul hetsy by finansies of verlowwe of by logistiek.  By finansies behoort ek dan te konsentreer op een aspek van administrasie.  Ek weet dit gaan nie makliker as die huidige posisie wees nie. Dit sal goed wees, want 'n posisie in die regte is nie maklik nie. 

Kom ons kyk wat gaan gebeur. Hopelik sal alles goed uitdraai.

Sunday, March 8, 2015

Eerste semester

Laat ek myself voorstel. Ek is Marinus Opperman. Tans is ek werksaam in die SAPD. Ek was gelukkig genoeg om 'n beurs te kry. Sonder die beurs sou dit bietjie moeiliker wees om die graad te behaal, maar dit sou nie onmoontlik wees nie. Elke bietjie help.

Vir semester 1 uit 10 het ek drie eerstjaarsvakke gevat en een derdejaarsvak. Met die graad in kommunikasie het ek Unisa se ritme begin leer. Werkstuk, werkstuk, eksamen of werkstuk, werkstuk, werkstuk.  Eerste werkstukke moet 12 en 13 Maart van 2015 in wees. Dis die volgende Vrydag van vandag af.  Vandag sal ek gebruik om dit klaar te maak.

Die plan is om tien minute per punt te gebruik.  Ek sal met die volgende plasing beskryf hoe dit gewerk het.  Unisa gee mens genoeg tyd, maar as mens dit verspeel, is jou kans daarmee heen. Tans is ek op die rand, maar ek gaan stadig terugtrek en weer op die veilige pad kom.

Groete tot dan!